TRUSTS EN ARTIKEL 7C VAN DIE INKOMSTEBELASTINGWET, WET 58 VAN 1962

Van ons kliënte wat inter vivos trusts opgerig het, oorweeg dit om die trusts te ontbind vanweë die belasting- en administratiewe las wat veral die laaste tyd op trusts afgedwing word. Dit is egter nie ‘n besluit wat ligtelik geneem behoort te word nie.

Waar ‘n trust vir spesiale en/of spesifieke redes opgerig is en dit korrek aangewend word, behoort daar geen rede te wees om die trust te ontbind nie. ‘n Goed gestruktureerde trust is buigsaam en kan by veranderde omstandighede aanpas, hetsy met betrekking tot persoonlike omstandighede of met betrekking tot wysiging van wetgewing.

Kortliks: in ‘n diskresionêre trust vorm die bates nie deel van die persoonlike boedel van die oprigter, begunstigde of trustee nie en bied die trust dus beskerming teen byvoorbeeld insolvensie, besigheids- en ander skuldeisers, huwelike en egskeidings. Finansiële bestuur kan deur die trustees toegepas word as deel van die versorging van ‘n begunstigde, wie se boedel andersins onder kuratele geplaas moes word.

Vir persoonlike beplanningsdoeleindes, kan daar behoorlik na gades, kinders en kleinkinders omgesien word; daar is kontinuïteit na afsterwe van die betrokkenes en boedeladministrasiekoste is minder. Benewens dit, word erfporsies nie deur die onmiddellike, direkte betaling van boedel- en kapitaalwinsbelasting verminder nie. Groei van die bates vind in die trust plaas en die trust kan onbeperk, ter beskerming van begunstigdes en bates, voortduur.

Dit is nie noodwendig raadsaam, óf die beste besluit, om ‘n trust, wat ‘n geruime tyd gelede reeds opgerig is, teen koste geadministreer is en oor bates beskik waar daar groot kapitaalwinsbelasting implikasies is, te ontbind nie, al was die enigste doel vir oprigting van die trust boedelbeplanning met spesifieke verwysing na belasting. Ons sou voorstel dat die koste implikasies met ontbinding van die trust, asook die betrokkenes se persoonlike lewens-omstandighede en persoonlike finansiële- en belastingsituasies, oorweeg word. ‘n Gedeeltelike verandering in die tipe trustbates wat behou word, is dalk meer haalbaar, so ook ‘n oorweging van alle (dan tersaaklike) faktore in die tipe bates wat in die toekoms deur die trust aangekoop en/of aanvaar word, byvoorbeeld groeibates.

Die Davis-belastingkomitee (hierna genoem die DBK) het in die tweede interimverslag oor boedelbelasting, voorgestel dat die deurvloei-beginsel gestaak moet word en dat inkomste en kapitaalwins in die trust belas moet word. Vir nou kan hierdie “geleibuisbeginsel” egter steeds aanwending vind, tot voordeel van die trust, afhangend natuurlik van die betrokkenes se persoonlike belastingsituasie.

Artikel 7C van die Wet op Inkomstebelasting, Wet 58 van 1962, is vanaf 1 Maart 2017 van toepassing waar ‘n natuurlike persoon of ‘n maatskappy (wat ‘n verbonde persoon aan daardie natuurlike persoon is) ‘n lening aan die trust toestaan en geen of ‘n lae rentekoers hef (d.i., minder as die amptelike rentekoers: tans 8%), aangesien die Suid-Afrikaanse Inkomstediens in so ‘n geval ‘n bedrag gelykstaande aan die verskil tussen die amptelike rentekoers en die rente wat gehef word as ‘n geagte skenking van die lener aan die trust beskou. Die leninggewer is dus voortdurend en jaarliks vir skenkingsbelasting (tans 20%) op daardie geagte skenking aanspreeklik.

Artikel 7C is van toepassing op sodanige lenings wat reeds op 1 Maart 2017 bestaan of wat daarna aangegaan word. Die rente word reeds vanaf 1 Maart 2017 bereken, maar die datum van die skenking word as 28 Februarie 2018 geag.

Die toepassing van Artikel 7C is, met ingang 19 Julie 2017, uitgebrei om lenings aan maatskappye wat aan trusts verbonde is, in te sluit. Dit sluit ook maatskappye in wat nie in ‘n trust geregistreer is nie, maar waar die aandeelhouers, as individue, trustbegunstigdes is. Laasgenoemde toepassing word tans bevraagteken.

‘n Verbonde persoon is enige persoon wat self of saam met ‘n persoon verbonde aan homself/ haarself, direk of indirek minstens 20% van die maatskappy se aandeelkapitaal of stemreg hou.

Die “Draft Taxation Laws Amendment Bill, 2017” bevat nou subartikel (1A), wat verhoed dat ‘n leninggewer ‘n ooreenkoms met ‘n ander begunstigde van die trust aangaan waarvolgens die leningsrekening aan daardie begunstigde oorgedra word.

Elke individu kan tans jaarliks, belastingvry, ‘n bedrag van R100 000 aan ‘n derde party skenk (skenkings tussen gades is egter in totaliteit vrygestel). Dit het die praktiese gevolg dat, indien die lener nie reeds die jaarlikse vrystelling elders aanwend nie, hy/sy die vrystelling kan gebruik om die 8% rente op ‘n leningsrekening tot en met R1 250 000 te betaal (R1 250 000 x 8% = R100 000).

‘n Ongelukkige gevolg hiervan is dat waar leninggewers die jaarlikse vrystelling moet gebruik om nie skenkingsbelasting te betaal nie, die vrystelling nie meer beskikbaar is om die leningsrekening te verminder ten einde hul persoonlike boedels te verklein nie.

Artikel 7C sal nie op die volgende van toepassing wees nie:

  1. Lenings aan spesifieke welsynsorganisasies gemaak
  2. Lenings in “bewind” trusts, dit is, waar die eienaarskap van die bates in die begunstigde vestig
  3. Lenings aan spesiale trusts wat vir gestremde persone opgerig is
  4. Lenings aan die trust gemaak vir die doel om kapitaal te verskaf (in totaliteit of gedeeltelik) vir die aankoop van ‘n onroerende eiendom wat deur die leninggewer of sy gade as primêre woning gebruik word, mits die woning deurentyd die jaar van aanslag aldus gebruik word
  5. Lenings aan buitelandse trusts (waar Artikel 31 op die lening van toepassing is)
  6. Lenings aan trusts wat aan spesifieke Sharia-ooreenkomste onderworpe is 3
  7. Lenings deur ‘n maatskappy wat geag word as ‘n dividend van die maatskappy aan die trust dienooreenkomstig Artikel 64E (4)
  8. Lenings aan trusts wat gebruik word om werknemer-aandeelskemas tot stand te bring
  9. Lenings in diskresionêre trusts wat ontstaan weens die uitkering van inkomste aan begunstigdes onderworpe aan sekere voorwaardes (sien hierna).

Daar is tans meningsverskille oor die toepassing en aanwending van Artikel 7C op uitkerings aan begunstigdes in diskresionêre trusts.

Een mening is dat waar ‘n bedrag (d.i., ‘n inkomste-of kapitale uitkering) in ‘n begunstigde vestig wat vir die voordeel van daardie begunstigde gebruik of geadministreer word, sonder dat die bedrag aan die begunstigde uitgekeer of betaal word, daardie bedrag nie as ‘n lening waarop Artikel 7C van toepassing is, beskou word nie, mits die trustakte bepaal dat die bedrag nie aan die begunstigde mag uitkeer nie (byvoorbeeld, waar die begunstigde eers ‘n spesifieke ouderdom moet bereik) of mits die trustees, ingevolge die trustakte, die uitsluitlike diskresie aangaande die tydperk en omvang van die uitkering aan die begunstigde van sodanige gevestigde bedrag het.

Die bedrag sal egter wel aan die bepalings van Artikel 7C onderworpe wees, indien die begunstigde die keuse tot uitkering gemaak het of ‘n versoek gerig het dat die trustees nie die bedrag aan hom/haar uitkeer of betaal wanneer hy/sy daarop geregtig raak nie en die trustees daartoe instem of in gevalle waar die begunstigde ‘n ooreenkoms met die trustees aangaan in terme waarvan die bedrag in die trust bly.

‘n Ander mening is dat Artikel 7C wel van toepassing is in al die bogenoemde gevalle.

Daar word voorgestel dat leningsrekeninge waarop daar tans geen rente betaal word nie (of rente onder 8% betaal word), saam met die trust se rekenkundige beampte nagegaan word om te bepaal of Artikel 7C op die totale leningsrekening van toepassing is. Die leningsrekening behoort ontleed te word om te sien of daar enige uitsluitings, byvoorbeeld aankoop van die primêre woning en uitkerings, geld. Die grootte van die leningsrekening, asook die persoonlike belasting-verpligtinge van die leninggewer, moet oorweeg word, teenoor moontlike stappe soos ‘n (gedeeltelike) terugbetaling van die lening (waar daar byvoorbeeld kontant beskikbaar is en dit nie nodig is om bates, waarop kapitaalwinsbelasting betaal moet word, te gelde te maak nie). Die betaling van rente deur die trust aan die leninggewer (inaggenome die trust se inkomste-generende bates en die leninggewer se belasbare inkomste), asook ‘n wysiging aan die trustakte om vir veranderde wetgewing voorsiening te maak.

Weereens, bovermelde stappe moet oorweeg word met inagneming van elke betrokkene se persoonlike finansiële- en boedelbeplanning-situasie, asook beskerming van die begunstigdes en bates in die trust.

PSG Wealth

2017: Week 15 PRETORIA-OOS Weeklikse nuusbrief

Hierdie artikel is algemene inligtingsblad en moet nie as professionele advies beskou word nie. Geen verantwoordelikheid word aanvaar vir enige foute, verlies of skade wat ondervind word as gevolg van die gebruik van enige inligting vervat in hierdie artikel nie. Kontak altyd finansiële raadgewer vir spesifieke en gedetailleerde advies. (E&OE)

This entry was posted in Tax and tagged , , . Bookmark the permalink.