Tag Archives: Beskerming

Verskille tussen die wet op gesinsgeweld en die wet op beskerming teen teistering

Blog_2Daar is mense wat op ‘n daaglikse basis ly onder emosionele en fisiese mishandeling, maar nie heeltemal seker is wat hulle kan doen om dit te voorkom nie. Daar is twee opsies beskikbaar. Daar kan óf aansoek gedoen word vir ‘n Beskermingsbevel, óf vir ‘n Teisteringsbevel. Baie mense weet egter nie wat die verskil tussen die twee is en watter bevel van toepassing op hulle situasie sou wees nie.

‘n Beskermingsbevel word beskryf as ‘n vorm van ‘n hofbevel wat vereis dat ‘n party sekere dade moet doen, of ophou om sekere dade te doen. Hierdie bevele vloei uit die hof se krag om billike remedies toe te staan in die situasies. Die volgende moet teenwoordig wees wanneer jy aansoek doen vir ‘n beskermingsbevel:

  • Daar moet ʼn patroon van geweld wees.
  • Dit moet ‘n tipe huishoudelike geweld wees soos:
  • Fisiesegeweld
  • Seksuelegeweld
  • Finansiëlegeweld
  • Emosionele/verbalegeweld
  • Die geweldmoetteen diepersoon watdieaansoek bring, gerig wees.

‘n Beskermingsbevel word ingesluit in die Wet op Gesinsgeweld. Dit beteken dat die misbruik tussen twee persone moet wees wat in dieselfde huis woon, soos broer en suster, of ma en pa, ens. Sodra die aansoek vir ‘n Beskermingsbevel toegestaan is, word ‘n keerdatum uitgereik. Op die keerdatum kan die Applikant besluit om aansoek te doen dat die bevel verwyder word of dat die Hof dit ‘n finale bevel maak. Indien die bevel finaal gemaak word, is dit permanent bindend. Indien die Respondent die Beskermingsbevel oortree, kan hy/sy tot 5 jaar gevangenisstraf ontvang. As die Applikant onder valse voorwendsels vir ‘n Beskermingsbevel aansoek doen, kan die Applikant tot 2 jaar gevangenisstraf ontvang.

Die aansoek vir ‘n Beskermingsbevel is ‘n ex-parte aansoek, wat beteken dat die aansoek sonder die Respondent se teenwoordigheid in die Hof aangehoor kan word. Dit kan probleme veroorsaak in die geval waar die Respondent onskuldig is en nie die geleentheid kry om homself/haarself te verdedig nie.

As jy die slagoffer van beledigende of dreigende gedrag is deur iemand waarmee jy nie ‘n huishoudelike verhouding het nie, kan dit teistering wees. As jy geteister word, kan jy aansoek doen vir ‘n Teisteringsbevel. Die volgende is belangrike feite rakende Teisteringsbevele:

  • Geenpatroonis nodig nie, en’n eerste oortredingkanvoldoende weesvir die toestaan van ‘n Teisteringsbevel.
  • Geen verhouding word vereis nie, en dit kan tee niemand wees wat jy nie ken nie.
  • Geen geweld hoef teenwoordig te wees nie.
  • Teisteringsluit in:agtervolg, boodskappe, ongewenstepakkette, briewe, sielkundige skade, liggaamlike leed, finansiële skade, ens.

As jy besluit om aansoek te doen vir ‘n Teisteringsbevel sonder dat jy weet  teen wie dit is, kan die Hof ‘n polisiebeampte vra om die saak te ondersoek. Die aansoek vir ‘n Teisteringsbevel vind plaas in ‘n ope hof, wat beteken dat dit nie privaat is nie – dit kan soms veroorsaak dat slagoffers nie aansoek doen om hierdie bevel nie. Sodra ‘n Teisteringsbevel toegestaan is, is dit bindend vir 5 jaar. Indien die Applikant die bevel wil terugtrek, moet die Hof tevrede wees dat die omstandighede verander het. Verbreking van ‘n Teisteringsbevel kan tot 5 jaar gevangenisstraf lei, en dit is ook dieselfde straf wat opgelê kan word vir Applikante wat die aansoek onder valse voorwendsels bring.

Dit is belangrik om te weet dat daar oplossings beskikbaar is vir slagoffers van afbrekende verhoudings. Of dit nou emosionele, fisiese of finansiële mishandeling is deur iemand wat jy ken of agtervolging en teistering deur ‘n onbekende persoon, dit het tyd geword om standpunt in te neem teen mishandeling.

Hierdie artikel is ‘n algemene inligtingstuk en moet nie gebruik of staatgemaak word op as professionele advies nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of vir enige verlies of skade wat voortspruit uit vertroue op enige inligting hierin nie. Kontak altyd jou regsadviseur vir spesifieke en gedetailleerde advies. E&OE.

Vrywaringskennisgewings

A3_bVrywaringskennisgewings bied beskerming aan eienaars en werknemers van winkelsentrums, stadions, parkeerareas en ander publieke areas. Alvorens hierdie  vrywaringskennisgewings effektief is, moet die kennisgewings aan bepaalde vereistes voldoen. Om verkeerdelik op hierdie vrywaringskennisgewings te steun, kan ʼn baie duur fout wees. Bepaal of die betrokke vrywaringskennisgewing voldoende is om jou en jou werknemers te beskerm.

Vrywaringskennisgewings word dikwels in winkelsentrums, stadions, parkeerareas en ander publieke areas gesien. Hierdie vrywaringskennisgewings word gebruik om die eienaar of werknemers van die tersaaklike area te beskerm, deur hom/haar vry te spreek van aanspreeklikheid, indien ʼn lid van die publiek van hierdie bepaalde area gebruik maak.

Vanuit regspraak blyk dit duidelik dat vrywaringskennisgewings wel afdwingbaar is, indien die kennisgewing op die korrekte wyse toegepas word. Die afdwingbaarheid van die vrywaringskennisgewings blyk duidelik vanuit die onderstaande uittreksel:

Durban’s Water Wonderland (Pty) Ltd v Botha and Another (168/97) [1998] ZASCA 115; [1999] 1 All SA 411 (A)

“If the language of a disclaimer or exemption clause is such that it exempts the proferens from liability in express and unambiguous terms effect must be given to that meaning. If there is ambiguity, the language must be construed against the proferens. (See Government of the Republic of South Africa v Fibre Spinners & Weavers (Pty) Ltd 1978 (2) SA 794 (A) at 804 C.)”

Volgens regspraak, moet twee belangrike faktore oorweeg word om te bepaal of ʼn vrywaringskennisgewing wel afdwingbaar is.

Eerstens, uit die Durban’s Water Wonderland-saak, is dit duidelik dat die betrokke  kennisgewing slegs effektief is, indien die bewoording van die kennisgewing nie dubbelsinnig is nie. ʼn Definitiewe vereiste is dus dat die kennisgewing duidelik en sonder enige dubbelsinnige bewoording uiteen gesit moet word. Die bewoording moet van so ’n aard wees dat die Verweerder gevrywaar word wanneer die publiek die kennisgewing lees. Dit moet egter bygevoeg word dat enige alternatiewe betekenis aan die kennisgewing nie te wyd geïnterpreteer moet word nie. Daar word dus bloot verreis dat die inhoud en betekenis van die kennisgewing duidelik is aan enigiemand wat dit lees. Hierdie toets word geïmplementeer sodat ʼn vae en dubbelsinnige stelling nie as voldoende beskou word om die publiek te bind volgens die sogenaamde “quasi mutual assent”-leerstuk nie. Hierdie leerstuk is die onderliggende regsbasis wat ʼn persoon bind aan die inhoud van ʼn vrywaringskennisgewing.

Die volgende voorbeelde van bewoording kan oorweeg word: “Die eienaar van die eiendom word hiermee gevrywaar” of “die eienaar, besturende agent en enige ander werknemer word hiermee gevrywaar” In die eerste voorbeeld word slegs die eienaar van die eiendom gevrywaar terwyl die tweede voorbeeld ook die besturende agent van ʼn eiendom asook enige werknemer vrywaar. Die eerste voorbeeld sou nie voldoende gewees het indien die skade aan ʼn lid van die publiek veroorsaak was deur die nalatigheid van ʼn werknemer nie, aangesien werknemers duidelik nie binne die bestek van die kennisgewing geval het nie. Dit is dus belangrik om te verseker dat die inhoud van ʼn vrywaringskennisgewing duidelik, verstaanbaar en voldoende is om alle partye te beskerm wat beskerming nodig het.

ʼn Verder kwessie wat ingedagte geneem moet word, wanneer die afdwingbaarheid van ʼn vrywaringskennisgewing oorweeg word, is die vraag of die kennisgewing duidelik sigbaar is. Die kennisgewing kan slegs afdwingbaar wees indien dit behoorlik vertoon is, sodat lede van die publiek dit gesien het of dit behoort te gesien het. Praktiese kwessies, soos die grootte van die kennisgewing, die afstand tot by die kennisgewing, die sigbaarheid daarvan, die lettergrootte en – tipe en die posisionering van die kennisgewing moet ook in ag geneem word. Hierdie toets word geïmplementeer aangesien die inhoud daarvan slegs binne die kennis van die lid van die publiek beskou kan word, indien die kennisgewing van so aard was dat die publiek dit maklik kon raaksien. Wanneer ʼn vrywaringskennisgewing dus gebruik word, moet die bogenoemde faktore in gedagte gehou word.

Dit is duidelik dat ʼn vrywaringskennisgewing ʼn effektiewe metode van beskerming kan wees, veral wanneer dit gebruik word in areas wat lede van die publiek dikwels besoek. Die gebruik van ʼn vrywaringskennisgewing is egter ʼn potensiële problematiese praktyk, aangesien daar verseker moet word dat die bewoording en plasing van die kennisgewing voldoende is om daarop te steun. Daar word aanbeveel dat ʼn prokureur die bewoording van die kennisgewing moet nagaan, voordat dit in gebruik geneem word.

Verwysingslys

Sake

Durban’s Water Wonderland (Pty) Ltd v Botha and Another (1999) 1 All SA 411 (A)

Government of the Republic of South Africa v Fibre Spinners & Weavers (Pty) Ltd 1978 (2) SA 794 (A)

Hierdie artikel is ‘n algemene inligtingstuk en moet nie gebruik of staatgemaak word op as professionele advies nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of vir enige verlies of skade wat voortspruit uit vertroue op enige inligting hierin nie. Kontak atyd jou regsadviseur vir spesifieke en gedetailleerde advies.