Category Archives: Padverkeer

Moenie deur die lewe jaag nie

A2_bJack Louw is gewoond daaraan om vinnige motors te ry – hy is feitlik gebore met een voet op die versneller. Jack kom boonop uit ‘n baie welgestelde familie, wat beteken dat daar altyd geld was om die boetes vir al sy verkeersoortredings te betaal. Jack se geluk kan egter binnekort draai en dan sal daar geen manier wees om net met ‘n boete weg te kom nie.

In terme van die Wet op Nasionale Padverkeer 93 van 1996 en die Regulasies, soos gepubliseer op 17 Maart 2000, is die algemene spoedgrense as volg: 60 km/h op ‘n openbare pad binne ‘n stedelike gebied, 100 km/h op ‘n openbare pad buite ‘n stedelike gebied wat nie ‘n deurpad is nie, en 120 km/h op elke snelweg.

Indien jy die spoedgrens met meer as 60 km/h oorskry, sal jy outomaties vervolg word en nie die geleentheid hê om ‘n afkoopboete te betaal nie. Indien jy meer as 100 km/h in ‘n 60 km/h-sone ry, sal jy waarskynlik nie die opsie hê om ‘n skulderkenningsboete te betaal nie, maar jy sal in die hof moet verskyn op ‘n aanklag van roekelose of gevaarlike bestuur.

Afhangende van die erns van die oortreding, sal jy nie toegelaat word om ‘n skulderkenningsboete te betaal nie. ‘n Skulderkenningsboete is ‘n boete waar ‘n persoon met ‘n eerste oortreding die opsie het om skuld te erken en ‘n boete te betaal sonder om in die hof te verskyn. Dit mag dalk soos ‘n maklike uitweg lyk, maar indien jy skuld erken, het jy ‘n kriminele rekord.

Skulderkenningsboetes vir spoedoortredings word bereken op die basis van die een rand per km/h wat die spoedgrens oorskry is. Hierdie boetes kan by enige kantoor van die Suid-Afrikaanse Polisiediens in die Landdrosdistrik waar die oortreding plaasgevind het, betaal word. Die boete moet getoon word op die dag van die betaling van die boete.

Indien jy kies om nie die skulderkenningsboete te betaal nie, maar eerder die saak in die hof te beveg, moet jy op die boete kyk om vas te stel op watter datum jy in die hof moet verskyn, en wat die saaknommer is. Navrae oor die boete moet gerig word aan die klerk van die kriminele hof van die Landdrosdistrik van uitreiking, en jy moet die boete saamstuur.

Dit is belangrik om kennis te neem van die spoed wat jy ry. Dit kan vir jou belangrik wees om betyds by jou bestemming uit te kom, maar is dit die moeite werd om ‘n boete te betaal, of met ‘n kriminele rekord te sit? Dit is veral belangrik om te onthou dat indien jy die boete in ‘n ander dorp as jou tuisdorp kry, jy terug na daardie dorp moet gaan om in die hof te verskyn. Dit is jou plig om in die hof te verskyn, ongeag of jy in die gebied woon of nie.

Dink voor jy skuld erken op ‘n spoed oortreding, of selfs beter, dink twee keer voor jy die spoedgrens oortree en jouself in daardie posisie plaas.

Hierdie is ‘n algemene inligtingstuk en moet gevolglik nie as regs- of ander professionele advies benut word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of enige skade of verlies wat volg uit die gebruik van enige inligting hierin vervat nie. Kontak altyd u regsadviseur vir spesifieke en toegepaste advies. (E&OE)

Padfietsryers teenoor motoriste

A3_b_newDie gewildheid van padfietsry as ‘n mededingende sport en ‘n vorm van vervoer is aan die toeneem. Dit lei natuurlik tot groot kommer oor veiligheid en ernstige ongelukke tussen alle padgebruikers.

Beide die Nasionale Padverkeerswet[1] en die Wes-Kaapse Provinsiale Wet op Padverkeer[2] reguleer die regte en verpligtinge van fietsryers en voertuigbestuurders op paaie in die Republiek van Suid-Afrika. Die Nasionale Padverkeerswet het spesifieke regulasies met betrekking tot fietsryveiligheid, en elke padfietsryer moet bedag wees op hierdie regulasies. Regulasie 311[3] bepaal die volgende:

(1)           Niemand mag ‘n padfiets ry op ‘n openbare pad nie, tensy hy of sy wydsbeen op ʼn saal van sodanige trapfiets ry .

(2) Persone wat padfietse ry op ‘n openbare pad moet agter mekaar ry tensy een fietsryer ʼn ander verbysteek. Twee of meer fietsryers mag nie ʼn ander voertuig tegelykertyd verbysteek nie.

(3) Geen staande of sittende fietsryers mag aan ʼn bewegende voertuig op ʼn openbare pad vashou nie.

(4) Geen fietsryer mag op ‘n openbare pad doelbewus veroorsaak dat sodanige padfiets van kant tot kant oor die pad swenk nie .

(5) Geen fietsryer op ‘n openbare pad sal enige persoon, dier of voorwerp op die padfiets vervoer wat sy of haar sig belemmer nie, of wat sy of haar volle beheer oor die padfiets belemmer nie

(6) ‘n Fietsryer wat op ‘n openbare pad ry, sal te alle tye ten minste een hand op die stuurstang hou.

(7) Wanneer ‘n gedeelte van ‘n openbare pad voorsiening maak vir fietsryers, mag geen fietsryers op enige ander gedeelte van daardie openbare pad ry nie.

(8) ‘n Fietsryer wat op ʼn openbare pad of op ʼn afgemerkte gedeelte van ʼn openbare pad fietsry, sal dit op so ʼn wyse doen dat beide wiele van sodanige padfiets te alle tye in kontak is met die oppervlak van die pad.

Die Wes-Kaapse Provinsiale Wet op Padverkeer is gepromulgeer op die 29ste November 2012, en die Wet hou implikasies vir beide fietsryers en voertuigbestuurders in. Hierdie Wet magtig die Provinsiale Minister van Vervoer om sekere sake te reguleer[4] om padveiligheid in die provinsie te verbeter. Onder andere is regulasies uitgevaardig om te verseker dat alle voertuie wat fietsryers wil verbysteek, minstens ‘n veilige afstand van 1.5 meter tussen hulle handhaaf, en wetstoepassing word voorgeskryf teen fietsryers wat nie in enkelgelid ry nie, of wat versuim om by rooi verkeersligte of stopstrate te stop.

Fietsryers het die reg om te verwag dat motorvoertuie hulle veilig verbysteek en op die uitkyk vir hulle is by kruisings. Die Wet op Padverkeer is duidelik waar dit bepaal dat bestuurders ander padgebruikers en fietsryers in ag moet neem. Fietsryers het ook die reg om die linkerkant van die pad te gebruik (nie die uiterste rand van die linkerkant nie). Ons is geneig om te vergeet dat daar fietsryers rondom ons is wat ook die paaie as ‘n middel van vervoer gebruik. Terwyl die wet bepaal dat alle fietsryers valhelms moet dra terwyl hulle fietsry, is dit vir baie ʼn uitgawe wat hulle eenvoudig nie kan bekostig nie, en dit maak hulle byna onsigbaar vir die bestuurders op die pad.

As ‘n bestuurder moet jy jouself afvra wat jy kan doen om ‘n botsing met ‘n fietsryer te vermy. Die AA bied ‘n paar veiligheidswenke vir bestuurders:

  • Gee toe vir fietsryers, veral by kruisings en ​​sirkels.
  • Maak seker dat u altyd u blindekolle dophou en dat die pad skoon en veilig is voor u ‘n draai maak of iemand verbysteek.
  • Moenie ry, stop of parkeer in ‘n fietsbaan nie.
  • Gee fietsryers genoeg ruimte wanneer u hulle verbysteek – daar moet ten minste 1,5 meter tussen u en die fietsryers wees.

Die verandering van die gedrag van bestuurders sal ook help in die stryd tussen padfietsryers en voertuigbestuurders en om sterftes op ons paaie te verminder. Fietsryers moet egter ook hul deel doen deur die volgende reëls na te kom en seker te maak hulle is sigbaar. Hier is ‘n paar veiligheidswenke vir fietsryers op die pad:

  • Gehoorsaam die verkeerstekens en die reëls.
  • Hou links en hou ten minste een meter weg van die sypaadjie en geparkeerde motors.
  • Ry saam met die verkeer en nie daarteen nie.
  • Wees sigbaar – dra reflektiewe klere en ‘n helderkleurige helm te alle tye.
  • Gebruik ligte in die nag – ‘n wit koplamp en ‘n rooi agterlig.
  • Gebruik handseine waneer u draai of om van bane te verwissel.
  • Fietsryers moet altyd agter mekaar ry en nie langs mekaar nie.

Ten einde die aantal sterftes op ons paaie te verminder, moet ons as padgebruikers saamwerk, en dit beteken dat beide fietsryers en motorbestuurders die reëls moet nakom. Die eerste stap sal wees om bewus te wees van die reëls en regulasies wat daargestel is om die belange van albei groepe padgebruikers te beskerm.

[1] 93 van 1996

[2] 6 van 2012

[3] Nasionale Padverkeersregulasies, 2000. Goewermentskennisgewing R225 in Staatskoerant 20963,  gedateer 17 Maart 2000. Aanvangsdatum 1 Augustus 2000 (bladsy 340/389).

[4] Des 6, 2013 – Provinsie WesKaap: Provinsiale Koerant 7208

Hierdie artikel is ‘n algemene inligtingstuk en moet nie gebruik of staatgemaak word op as professionele advies nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of vir enige verlies of skade wat voortspruit uit vertroue op enige inligting hierin nie. Kontak atyd jou regsadviseur vir spesifieke en gedetailleerde advies.

Haastige hond verbrand sy mond

A4 BDis die klassieke geval: Mandie ry 31 km/h oor die maksimum snelheidsperk in ‘n poging om tred te hou met die res van die motors op die pad. Sy is onder die indruk dat sy bloot by die vloei van die verkeer hou toe sy skielik flitsende ligte in haar truspieël sien. Mandie aanvaar verkeersboetes as ‘n “lewensfeit“ en beskou oortredings as die buig van reëls eerder as die pleeg van ‘n misdaad.

Maande later arriveer die verkeerskennisgewing in die pos en Mandie berei haar voor vir ‘n swaar boete. Sy is egter geskok wanneer die kennisgewing haar verwittig dat sy in die hof moet verskyn en dat sy strafregtelik vervolg word.

Mandie en die meeste ander Suid-Afrikaners is nie bekend met ‘n wysiging aan Artikel 35 van die Wet op Nasionale Padverkeer wat in 2010 aangebring is nie, waarvolgens ‘n voertuigbestuurder strafregtelik vervolg kan word vir die oorskryding met meer as 30km/h van die maksimum snelheidsperk en dat die rybewys van iemand wat skuldig bevind word,  opgeskort kan word.

Hierdie bepaling  kan ernstige gevolge hê vir baie padgebruikers. Nie net moet Mandie vir `n kriminele oortreding in die hof verskyn nie, maar bestaan die moontlikheid dat haar rybewys opgeskort kan word en dat sy boonop ‘n kriminele rekord kan kry. 

Artikel 35 van die Wet op Nasionale Padverkeer:

  1. Die term “oorskry” in Artikel 35(1)(aA)(i) en (ii) verwys na ‘n snelheid van 31 km/h of meer bo die voorgeskrewe spoedgrens in ‘n stedelike area en ‘n snelheid van 41km/h of meer bo die voorgeskrewe spoedgrens buite ‘n stedelike gebied of op ‘n deurpad.
  2. Indien jy op heterdaad betrap word wanneer jy een van hierdie oortredings begaan, sal jy in hegtenis geneem word. Dienooreenkomstig sal jy op borgtog vrygelaat word en aangemaan word om op ‘n vasgestelde datum en tyd in die hof te verskyn.
  3. Indien jy nie gestop is deur `n verkeersbeampte nie, sal jy ‘n kennisgewing in die pos ontvang waarin jy verwittig word van ‘n dagvaarding waarin jy gelas word om in die hof te verskyn, welke dagvaarding op ‘n latere stadium persoonlik op jou beteken sal word.

Versuim om in die hof te verskyn ooreenkomstig die kriminele dagvaarding sal lei tot die uitreiking van ‘n lasbrief vir jou  arrestasie. Die Wet vereis dat ‘n persoon skuldig bevind moet word aan ‘n beweerde oortreding voordat enige regsgevolge daaruit voortvloei. Aangesien ‘n snelheid bo die snelheidsgrens soos hierbo aangedui as ‘n kriminele oortreding beskou word, sal die staat bo redelike twyfel moet bewys dat die persoon skuldig is aan sodanige oortreding.

Die opskorting van jou rybewys vir die tydperk soos voorgeskryf in die Wet is nie ‘n opsionele vereiste nie. Dit is ‘n verpligte opskorting vir ‘n tydperk van ses maande in die geval van ‘n eerste oortreding. Waar ‘n persoon skuldig bevind word aan ‘n tweede oortreding kan sy/haar rybewys opgeskort word vir ‘n tydperk van tot vyf jaar en in die geval van die derde of daaropvolgende oortreding, vir tot soveel as tien jaar.

Hoewel baie geregtelike beamptes (landdroste) Artikel 35(3) wyd interpreteer wat betref die opskorting al dan nie van ‘n rybewys, beteken dit nie dat indien opskorting van jou rybewys nadelige gevolge vir jou sal inhou, jou rybewys nie opgeskort sal word nie.

Die eenvoudige beginsel geld: Spoed mag dramatiese gevolge vir jou inhou. Die dae van bloot net jou boete by die naaste verkeersdepartement betaal, is verby.

Hierdie artikel is ‘n algemene inligtingstuk en moet nie gebruik of staatgemaak word op as professionele advies nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of vir enige verlies of skade wat voortspruit uit vertroue op enige inligting hierin nie. Kontak atyd jou regsadviseur vir spesifieke en gedetailleerde advies.