Category Archives: Hof sake

Sportbeserings: Wie is aanspreeklik?

A4_bKontak sporte gee dikwels daartoe aanleiding dat die spelers daarvan ernstig beseer word. Kan iemand aanspreeklik gehou word vir hierdie beserings, of neem jy, as deelnemer, inherent die risiko wanneer jy aan hierdie sportsoorte deelneem. Die regspraak het egter belangrike beginsels is vasgestel met verwysing na die bogenoemde kwessie. Eerstens is dit belangrik om deeglik bewus te wees van die betrokke sportsoort se reëls, wat toelaatbaar is, al dan nie, alvorens jy aan die sportsoort deelneem.

Wanneer jy aan ʼn sport deelneem, stem jy in tot die moontlikheid van beserings? In die 2012-Appèlhofsaak van Hattingh v Roux, is hierdie stelling oorweeg. In hierdie saak het die appellant die respondent ernstig beseer deur gebruik te maak van ʼn skrum tegniek, die jack-knife.

Die Appèlhofregter, Plasket, het ten gunste van die respondent beslis. In die uitspraak is daar beslis dat die appellant opsetlik die respondent beseer het en dat sy aksies as onregmatig beskou moet word. Die regsbeginsel van Volenti Non Fit Iniuria, of die toestemming tot potensiële skade, sou onder normale omstandighede ʼn persoon beskerm wat iemand in ʼn sportwedstryd beseer, maar die regsbeginsel (Volenti Non Fit Iniuria) geld slegs waar die besering plaasvind onder normale omstandighede gedurende ʼn wedstryd.

Regter Plasket het gesê dat: “Eerstens was die jack-knife beweging wat deur Alex uitgevoer is in teenstelling met die reëls van die wedstryd. Verder was die beweging ook in teenstelling met die gees en die konvensies van die sport. Tweedens was die beweging ook vooruitbeplan, en was dit dus doelbewus uitgevoer. Derdens, alhoewel een van die doelwitte was om veld te wen met die skrum, was ʼn definitiewe oorweging ook om die opposisie te intimideer, spesifiek Ryan. Dit was ook uiters gevaarlik.”[1]

Plasket AJ gaan verder:

“aangesien hierdie optrede aanleiding gegee het tot so ʼn ernstige oortreding van die reëls, kan dit nie as die norm beskou word vir ʼn gewone rugby wedstryd nie, en is dit ongelooflik gevaarlik. It would ‘not have constituted conduct which rugby players would accept as part and parcel of the normal risks.”[2]

Dit blyk duidelik vanuit hierdie uitspraak dat die hoofkwessie om te oorweeg wanneer daar geëvalueer word of ʼn persoon aanspreeklik gehou kan word ʼn ernstige besering in ʼn kontaksport, die vraag is of die besering plaasgevind het in die normale gang van die wedstryd.

Appelregter Brand, het in In alternatiewe uitspraak die volgende stelling gemaak:

“I believe that conduct which constitutes a flagrant contravention of the rules of rugby and which is aimed at causing serious injury or which is accompanied by full awareness that serious injury may ensue, will be regarded as wrongful and hence attract legal liability for the resulting harm”.[3]

Daar word gestel dat waar ʼn aksie van so aard is dat dit ʼn blatante oortreding van die reëls van die spel is, die speler homself met die nagevolge van die oortreding konsolideer en opsetlik voortgaan met die handeling, behoort die speler aanspreeklik gehou te word vir sy aksies. Dit is belangrik dat die betekenis van hierdie stelling nie is dat enige besering wat voortspruit uit die oortreding van ʼn reël met regsgevolge gepaard moet gaan nie, maar slegs gevalle wat so ernstig en blatant is, dat dit wel nodig is.

Dit sou ʼn onnodige las plaas op ʼn speler om nie enige reël te verbreek nie, uit die vrees dat ʼn speler in die ander span beseer kan raak en dat regsgevolge daaruit mag spruit. Dink jou in dat ʼn rugbyspeler deliktueer aanspreeklik gehou word vir die feit dat hy van sy voete af gegaan het by ʼn losgemaal, ʼn algemene fout in rugby. Die beredenering agter die Roux-uitspraak, is bloot dat waar ʼn speler opsetlik en blatant die reëls van die spel verbreek en weet dat die oortreding ernstige beserings kan veroorsaak, kan die speler aanspreeklik gehou word.

Daar is dus geen rede om die manier waarop daar ʼn aan ʼn sport deelgeneem word, aan te pas bloot uit die vrees van regsgevolge nie. Wees egter bewus van die feit dat kwaadwillige aksies op die sportveld ernstige gevolge mag hê

Bibliografie

Artikels

Labuschagne JMT “Straf- en Delikregtelike Aanspreeklikheid vir Sportbeserings” Stell LR 1998 1 72

Regspraak

Roux v Hattingh 2012 (6) SA 428 (SCA)

[1] Roux v Hattingh 2012 (6) SA 428 (SCA) at Par27

[2] Roux v Hattingh 2012 (6) SA 428 (SCA) at Par28

[3] Labuschagne JMT “Straf- en Delikregtelike Aanspreeklikheid vir Sportbeserings” Stell LR 1998 1 72 78

Hierdie is ‘n algemene inligtingstuk en moet gevolglik nie as regs- of ander professionele advies benut word nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of enige skade of verlies wat volg uit die gebruik van enige inligting hierin vervat nie. Kontak altyd u regsadviseur vir spesifieke en toegepaste advies. (E&OE)

‘n Duik op jou rekord?

A4_BAngela, ‘n gewone middeljarige vrou met ‘n basiese salaris, bevind haar in ‘n moeilike situasie wat dalk kan veroorsaak dat sy nie in Desember saam met haar familie in Mauritius vakansie kan hou nie. Angela het gou gaan brood koop voordat haar tienerseun uit die skool kom. Toe sy uit haar motor klim, het die kwaai Kaapse wind veroorsaak dat haar motordeur teen die deur van die motor langs haar waai en ‘n groot duik laat. Wat moet Angela doen? Moet sy dit net ignoreer en op ‘n ander plek parkeer? Is dit nie wat baie mense sou doen nie?

In die saak van S v Mpho Vincent Mutobvu 2013 (2) SACR 366 (GNP), het mnr Mutobvu sy motor agteruit uit ‘n parkeerplek getrek toe hy die motor langs hom skraap. Hy het gedink daar was geen skade nie en het toe weggery. ‘n Veiligheidswag het egter gesien wat gebeur het en sy motor se registrasienommer neergeskryf. Die klaagster het mnr Mutobvu deur middel van die registrasienommer opgespoor en hom ingelig dat sy die saak aan die polisie gerapporteer het. Hy het haar voertuig ondersoek, toegegee dat hy skuldig was en aan haar R6 000 vir die herstelkoste betaal. Hulle het saam polisiestasie toe gegaan om die klag terug te trek. Hulle is ingelig dat mnr Mutobvu eers R500 moes betaal voordat die saak teruggetrek kon word. Mnr Mutobvu het die R500 betaal en aanvaar dat dit ‘n gewone boete is. Hy was onder die indruk dat die saak hiermee afgehandel is.

Kort na die ongeluk het mnr Mutobvu ‘n onderhoud gehad vir ‘n nuwe pos by ‘n mynmaatskappy. Hy is toe ingelig dat hy nie die werk kon kry nie vanweë sy kriminele rekord. Van watter kriminele rekord praat die mense? Hy het na die Kriminele Rekord Sentrum in Pretoria gegaan en is ingelig dat die R500 wat hy gemeen het ‘n boete was, eintlik ‘n skulderkenning was kragtens Artikel 57 van die Strafproseswet 51 van 1977. Hy het erken dat hy Artikel 61 (1) (a) van die Wet op Nasionale Padverkeer 93 van 1966 oortree het – versuim om te stop na ‘n ongeluk. Sy kriminele rekord sou eers na tien jaar uitgewis word. Mnr Mutobvu het toe aansoek gedoen om ‘n spesiale hersiening, want hy het gevoel dat hy nie die kriminele rekord verdien nie.

In S v Cedras 1992 (2) SACR 530C in 531j-532b is die volgende bevind ten opsigte van ‘n hof se benadering tot ‘n hersiening:

“In sulke gevalle moet die vraag altyd wees of daar oorwegings van billikheid en regverdige handelswyse is wat die hof verplig om in te gryp om ‘n moontlike mislukking van geregtigheid te voorkom. Daar moet bewyse voor die hof wees van die waarskynlikheid van sodanige onbillikheid, sou die hof nie tussenbeide tree nie. ’n Hof moet tevrede wees dat die skulderkenning waarskynlik foutief was en die beskuldigde of ‘n persoon wat namens hom ‘n eed aflê, moet ‘n bevredigende verduideliking gee van hoe dit gebeur het dat die skulderkenning verkeerdelik gemaak is. Goeie gronde moet aangevoer word vir kondonering van die fout wat gemaak is met die skulderkenning. Daar moet bevind word dat, as die aanklag tot ‘n verhoor sou lei, die beskuldigde ‘n waarskynlike verweer teen die aanklag sou hê en dat sy geagte skuldigbevinding of vonnis gevolglik waarskynlik nie in ooreenstemming met geregtigheid is nie.”

Mnr Mutobvu het gesê dat hy nie regsverteenwoordiging gehad het toe hy onwetend skuld erken het wat gelei het tot die kriminele rekord nie. Hy het ook gesê dat hy vir die skade betaal het en dat die klaagster aanvaar het dat die klag teruggetrek word. Die hof het verklaar dat “in alle omstandighede sal ek die betaling van die skulderkenningsboete en daaropvolgende skuldigbevinding en vonnis tersyde stel en beveel dat die boete aan die beskuldigde terugbetaal word”. Mnr Mutobvu se kriminele rekord is geskrap en die R500 is aan hom terugbetaal.

‘n Kriminele rekord is nie iets wat mens ligtelik moet opneem nie. Die eerste klag mag jou dalk nie in die tronk laat beland nie maar dit kan jou in baie ander ongemaklike situasies plaas. As Angela besluit om weg te ry van haar ongeluk kan sy ook ‘n kriminele rekord kry, en dit sou beteken geen Mauritius-vakansie vir haar nie. Geen persoon met ‘n kriminele rekord mag die land verlaat nie, want hy/sy word as ‘n gevaar beskou, en dit is dan byna onmoontlik om geskikte werk te vind. Iets so eenvoudig soos ‘n duik in ‘n motordeur kan jou hele lewe verander. My raad aan Angela sou wees om vir die eienaar van die voertuig te wag of ‘n nota te laat met haar versekeringsbesonderhede. Haar situasie is soos ‘n TV-lisensie: betaal dit, dis die regte ding om te doen!

Hierdie artikel is ‘n algemene inligtingstuk en moet nie gebruik of staatgemaak word op as professionele advies nie. Geen aanspreeklikheid kan aanvaar word vir enige foute of weglatings of vir enige verlies of skade wat voortspruit uit vertroue op enige inligting hierin nie. Kontak atyd jou regsadviseur vir spesifieke en gedetailleerde advies.